Kommandant Tjaart van der Walt

In die vroeë 1800 het Generaal Dundas van die destydse Engelse owerheid verskeie strafekspedisies op die oosgrens goedgekeur. Een van die Boereleiers wat ook in groot guns by die regering was en wat talle van die straftogte gelei het, was kommandant Tjaart van der Walt. Hy het ook as erkenning vir sy diens ʼn praggeweer van generaal Dundas ontvang.
Na herhaalde strooptogte deur die Xhosas en Hottentotte in die oosgrens-distrikte, en die onvermoë van die regering om doeltreffend teen hulle op te tree, is daar weer so ʼn kommando in 1801 op die been gebring. Met ses en sestig manne het die kommandant na Roodewal suid van die Sondagsrivier opgeruk op 13 Februarie 1802. Op dieselfde dag is die eerste slag gelewer en die kommandant se seun, ook Tjaart, is op een en twintig jarige leeftyd dodelik gewond. Die rowers is verslaan en heelwat vee en gewere is terug geneem.
Op 7 Mei 1802 is weer ʼn proklamasie uitgevaardig om al die burgers van Swellendam en Graaff-Reinet byeen te bring met die oog op ʼn strafekspedisie teen die rowers. Die militêre leiding is weereens aan kommandant Tjaart van der Walt, in samewerking met majoor Francis Sherlock van Graaff-Reinet, opgedra. Na die voorwaardes verwerp was deur die Xhosas en Hottentotte het die kommando’s heelwat welslae behaal in die daaropvolgende gevegte in die opvolgende maande.
Op die 8ste Augustus 1802 het die gety egter ʼn tragiese wending geneem: kommandant Tjaart is in die Kouga-heuwels, tussen Baviaanskloof en die Kougarivier, deur een van die inboorlonge dodelik gewond. Nooit was die sukses van ʼn enkele slagveld tot op daardie stadium so fataal getref deur die dood van ʼn enkeling nie. Van generaal Dundas tot die nederigste burger het onvoorwaardelike vertroue in die kommandant gehad; sy uitstaande karakter en onverskrokkenheid asook sy toewyding aan sy taak, was vir almal ʼn groot inspirasie.
Bron: Nuusbrief argief en “History of South Africa” deur G. McC Theal, deel 5.