Oom Nicodemus van der Walt

Oom Nicodemus van der Walt was bekend as die sterkste man wat Middelburg ooit gehad het, genadiglik was hy ‘n baie vredeliewende man, so doof soos ‘n kwartel. Volgens oom Frikkie Aucamp was hy so 6 voet 2 duim lank, effens vooroor geboeë met twee groot sterk hande. ‘n Skoorsoeker het hy net eenkant toe gegooi en weggestap. Hy het karweiwerkies gedoen totdat hy in 1911 die kontrak by die afdelingsraad gekry het vir die onderhoud van die Uitsigpad. Een dag kry hy kennis dat sy donkies geskut is. By die skutkraal aangekom vind hy dat die swaar ysterhek met ‘n allemintige slot en swaar ketting gesluit is.

Om moeilikheid met die skutmeester te vermy klim hy oor die klipmuur van die skutkraal en tel sy donkies een vir een oor die hek, hoe hy hulle oor die hek of muur gekry het het sy geheim gebly. ‘n sterk man besoek Middelburg en sy vertoning is in die Stadsaal. Sy helper sit by ‘n tafeltjie, hy sit ‘n vyf pond noot (R10) op die tafeltjie en daag enigeen uit om hom uit te slaan, die wenner vat die tien pond. ‘n Paar jongmanne het probeer maar kon nie hond haaraf maak nie en het hulle vyf ponde verloor.

Wilhelm Stahl spring gou daar weg en gaan haal oom Nicodemus, maar hy is alreeds in die bed. Stahl oorreed hom tòg om gou aan te trek en toe hulle by die saal aankom sit Stahl die vyf pond op die tafeltjie, oom Nicodemus stap na die sterkman toe en terwyl diè nog sy manewales uithaal pot oom Nicodemus hom een hou planke toe, so uit soos ‘n kers.

Volgens my bron vat Stahl die tien pond, koop vir oom Nicodemus ‘n verversing en neem hom huistoe sodat hy sy nagrus kon gaan voortsit.

Met spesiaale vergunning van die skrywer Hennie Coetzee, uit sy boek Middelburg: Hede en verlede.

Sien ons boek afdeling.