Hendrik Stephanus Johannes van der Walt - Legendariese verkenner en Kaapse rebel - Anglo-Boereoorlog 1899 - 1902

Op 11 Februarie 1901 versprei kaptein Lötter en sy manskappe die woord dat hy ʼn vergadering gaan hou op die plaas Rietvlei, suid van Middelburg Oos Kaap, en doen hy beroep op elke Afrikaner-patriot se teenwoordigheid. Die plaas Rietvlei was, net soos Barendskraal, ʼn oornagpunt vir transportryers. Op so ʼn tipiese oornagpunt was daar vir die trekdiere die nodige voer en krale. Vir die drywers was daar natuurlik plek om te was en ʼn gebou waar almal kon byeenkom om te gesels oor die gebeure van die dag. Slaapplek, soos ons vandag se hotelle ken, was daar egter nie, en die drywers het op hul waens geslaap.
Vir Hans van der Walt van Wolwefontein, moes dit sekerlik die oomblik van waarheid gewees het. Hy en sy maats het elke koerant, of dit Engelsgesind was of nie, woord vir woord deurgelees vir nuus oor die oorlog. Hulle was terdeë bewus daarvan dat kommandant Kritzinger vroeg in Januarie met sy kommando suid verby die dorp getrek het. Die koerant van dié tyd was hiervan immers vol.

Ook was hulle op hoogte van die ongekende lyding op die oorlogsfront en in die konsentrasiekampe. Gereeld het hulle treine vol troepe en oorlogstuig afkomstig van Brittanje, Kanada, Indië, Australië en Nieu Zeeland gesien verbybeweeg op pad na die noorde. In die koerante was daar dikwels protes- en smeekskrifte om geskille deur middel van arbitrasie te besleg. Dit het egter niks gehelp nie. Engeland het alle pleidooie geïgnoreer en het die oorlog met al die mag tot sy beskikking voortgesit. Van die ouer mense het begin praat van die stryd teen die hele Afrikanerdom, as die onverbiddelike haat en vervolgsug van die Britse militêre mag homself al hoe meer begin openbaar het.

Ander Republiekgesindes, vernaam die ouer geslag, het eerder die Britse koerante waarin alles verdraai word, vermy. Volgens een Britse koerant het die plaaslike mense in ʼn droom verkeer en het hulle nie besef wat om hulle aangaan nie:
... astounded to hear ... victim of misplaced confidence accepting as truth that De Wet laying siege to Cape town, general Buller had been driven back into Natal and Kruger is still in the country. When will these benighted people become amenable to reason? Unless this darkness is speedily dispelled, the work of reconstruction under the beneficent rule of Great Britain will be a very slow process”.

Op Somerset-Oos word Olive Schreiner se toespraak aan die dames van die dorp voorgelees. Sy skryf dat Engeland vir haar dood is en dat hulle vir haar die verdrukker geword het:
... daardie baardlose knaap of die grysaard van sewentig wat met sy bloed die koppies of die laagtes van sy vaderland rooi gevlek het. Engeland wat dit voordelig vind om hulle lewe met ʼn miljoen pond te koop. As die dag kom, en hy sal kom dat vreemde troepe die grond van Engeland betree ... laat Engeland hom dan aan Suid-Afrika herinner.”

Die oggend van 11 Februarie het ʼn groepie ruiters van Lötter se bestaande kommando van plaas tot plaas gery om die gewilliges bymekaar te maak vir ʼn vergadering op die plaas Rietvlei. Op die plaas Elandskloof het ʼn bywoner se vrou, Susanna Magdalena Joubert, later ʼn aantal rebelle geïdentifiseer. Baie burgerlikes is gedwing om verklarings af te lê in die teenwoordigheid van intimiderende Engelse soldate. Haar beëdigde verklaring aan die Engelse het gemeld dat, op die oggend van 11 Februarie, op die plaas Elandskloof, die volgende persone te perd luidkeels afgekondig het dat hulle by die Boerekommando gaan aansluit:

Die broers Jacob, 26 jaar oud en Theunis van Wyk, 23 jaar oud, bywoners op Elandskloof. Jacob het later, op die 4 Julie 1901, gesneuwel naby Cradock, terwyl sy broer, Theunis, se gegewens nie tydens navorsing gevind kon word nie. Hy was wel een van die getuies in Johannes (Hans) se hofsaak van hoogverraad.
Christiaan Marais, 38 jaar oud, van Rietvlei, waar die vergadering sou plaasvind. Geen verdere gegewens kon hierna van hom opgespoor word nie.
Van Rietvlei, Barend van der Berg, 30 jaar oud,23 en Isaac van der Merwe, 22 jaar oud. Hy sneuwel in September daardie jaar op Paardekraal naby Pearston, toe luitenant-kolonel Scobell kommandant Lötter tot oorgawe dwing. Dit is heel moontlik dat hulle almal maats was.

Ook tussen die groep was Schalk Louis Vorster, 24 jaar oud en sy neef met dieselfde name van Elandskloof, Hendrik Haarhoff van Wilgersfontein, 24 jaar oud, Willem Kruger, 25 jaar oud en Hans van der Walt, 25 jaar oud, van Wolwefontein. (Hans was Johannes van der Walt se noemnaam).

Hierdie verklaring het later, na die oorlog, in heelwat van die rebelle van die omgewing se hofsake van hoogverraad, die belangrikste bewysstuk uitgemaak.

Uitreksel uit die boek Johannes Strydsman, Legendariese verkenner en Kaapse rebel, Anglo – Boereoorlog 1899 -1902. (sien afdeling oor boeke)