Philip van der Walt - Cheetah!


Rugby Loopbaan
Vir die tweede maal hierdie jaar word Philip van der Walt gekroon as speler van die wedstryd. Dit het plaas gevind op Saterdag die 5de Julie in Bloemfontein op die Vrystaatse stadion tydens hulle segewedstyd teen die Sharks met die telling van 27 – 20. Sy eerste toekenning was vroeër hierdie jaar op Vrydagaand van die 21 ste Februarie 2014. Op daardie aand wen die Cheetahs die Bulle met 15-9 in gietende reën. Vir hom was die voorreg soveel groter dat albei sy ouers die wedstryde kon bywoon. Philip speel in die posisie van agsteman. Hy is 25 jaar oud, weeg 113 Kg en is 194 cm lank.
Met so ‘n indrukwekkende prestasie is dit ook geen wonder dat baie rugbykenners reken dat die jong Philip se loopbaan oppad is na Springbokglorie. Philip was ‘n sport fanatikus op skool. Op Adelaide Gimnasuim was hy onder andere ‘n kranige tennis- en rugbyspeler. Op Laerskool speel hy losskakel maar dit het gou by hom tuis gekom dat dit nie regtig sy natuurlike posisie is nie. Kort daarna verander hy na flank maar speel sy beste rugby op agsteman. In 2006 verteenwoordig hy die Oostelike Provinsie in die onder 18 Akademie span vir die eerste keer.
Daarna is sy opgang in die sport soos volg:
• 2007 Oostelike Provinsie onder 18, Coca Cola, Craven week.
• 2008 Vrystaat onder 19 kompitisie.
• 2009 Vrystaat (ABSA onder 21 kompetisie).
• 2010 Vrystaat (ABSA onder 21 kompetisie), Vrystaat (Vodacom Cup), Vrystaat Cheetahs (ABSA Currie Cup
  Premier Divisie). Springbokkleure: Sewesrugby (Las Vegas)

• 2011- 2014 Toyota Vrystaat Cheetahs (ABSA Currie Beker Premier Divisie), Toyota Cheetahs (Vodacom
  Super 15).

Phillip-VD-Walt

Philip van der Walt tydens die twee Sewes toernooie naamlik:
Emirates Airline Wellington Sevens en die USA Sevens van 2009 - 2010.
Bron. http://www.blitzbokke.com


Na skool

Na skool het Philip die keuse gehad om in Bloemfontein, waar sy suster woonagtig is, of in Stellenbosch waar sy broer studeer het, verder te gaan studeer. Bloemfontein was egter sy keuse en so sit hy dan sy rugby loopbaan daar voort.
Op universiteit behaal hy ‘n B Com graad in Menslike Hulpbronne bestuur. Hy voltooi ook ‘n nagraadse diploma in onderwys.
Behalwe sy voltydse rugbyloopbaan is hy ook ‘n vennoot saam met sy ouer broer in ‘n konstruksievoertuig verhuringsmaatskappy.

Genealogie

Christoffel Philippus van der Walt was gebore in Adelaide, Oos Kaap op die 14 Julie 1989. Op die 3de November 2012 tree hy in die huwelik met Amandi Greeff. Amandi het onder andere dieselfde kursus as Philip aan die universiteit gestudeer. Op hede is sy ‘n dosent aan die universiteit. Haar moeder is ‘n nooi van der Merwe. Die Van der Merwe familie is bekende Middelburgers van die Oos Kaap.
Philip is die jongste seun van Christoffel Philippus Petrus van der Walt en Wilhelmina Jacoba du Toit van die plaas Skurwekop in die Adelaide distrik.
Die Van der Walt familie se voorouers kom oorspronklik van die Petrusburg omgewing in die Vrystaat. Philip se oupagrootjie, Tjaart Jurgens van der Walt, getroud met Magdalena Anna Strachan, het tydens die depressiejare die familiegrond verloor. Met die volgende geslag het sy oupa Stoffel (ook bekend as Jack) met ‘n nooi Du Plooy van die plaas Eensgevonden in die Adelaide distrik getrou en het hulle na sy aftrede as distriksinspekteur van SA Spoorweë op die plaas Skurwekop gevestig. So het die plaas toe deel geword van die familie.

Persoonlik
In die onderhoud met hom was dit vir my duidelik dat Philip grootgeword het met sterk Christelike waardes. Opregtheid, gepaardgaande met eerlikheid en integriteit, vorm sterk steunpilare van sy karakter. Hy besit ook tipiese Van der Walt karaktertrekke soos deursettingsvermoë, doelgerigtheid en ‘n sterk geaardheid. Dit word gebalanseer deur ‘n sensitiwiteit vir mense. Die eienskap, vertel hy, het hy van sy moeder geërf.
Dit is nie algemeen dat Van der Walts rooi hare het nie. Hy deel die gene met sy patriagale ouma, Hester du Plooy.

Troue
Voor: Amandi, Philip en sy Ouma Hester du Toit.
Links: Sy broer Frans en sy vrou Lauren, gebore Ballantyne
Regs: Sy suster Rienke en haar man Marinus Potgieter
Agter: Sy ouers Christo en Wilna.

Sy toekoms
Wat Philip se rugby loopbaan betref is hy besig om te groei in statuur. Soos vele ander jong spelers staan sy kop na die buiteland om sy rugby loopbaan te bevorder. Hy het reeds ‘n kontrak geteken met die klub Biarritz in Frankryk en sal tot 2015 daar uitdraf. Alhoewel al sy ondersteuners, en spesifiek die uit die Van der Walt geledere, jammer is om hom tydelik te sien gaan, wens ons hom net die beste toe vir die toekoms.
Ek voel seker dat ons weer sy passievolle spel sal sien as hy terugkeer in die groen en goud! Hy sal inderdaad geskiedenis maak, want sover my kennis strek was daar nog nooit ‘n Van der Walt gekies vir die Springbok span nie.

Johan van der Walt