Doppers - Vanwaar? Bynaam? Volksnaam?

Rae Nepgen & Koeks Pretorius.

Hierdie bydrae is afkomstig uit die sogenaamde Rae Nepgen versameling, dit is navorsingsnotas wat Mev. Rae Nepgen (voorheen Van Heerden Geb Smith) ‘n tyd gelede aan GGSA geskenk het vir verwerking en bewaring. Na omswerwing het die dokumente by die Noordwestak beland en word tans getranskribeer om ooreenkomstig haar versoek die inligting wyer beskikbaar te stel.

Die onderstaande gedeelte uit die inleiding/voorwoord is deur haar skoonsuster ME (Koeks) Pretorius saamgestel. (Outeur van “Pretorius oor Drie Eeue”).

GGSA het beide dames voorheen vereer met die “Toekenning van Uitnemendheid”, Koeks in 2008 en Rae in 2010 en meer inligting oor hulle kan in die hierdie Famnea van Jaargang 9, Uitgawe 4, sowel as Famnea 2012-3 gevind word.



“Dit is bekend dat daar teen 1832 reeds sowat 200 boeregesinne oos van die Sterrenbergspruit gewoon het, d.w.s. oos van die huidige Burgersdorp. In 1845 word nog ‘n ontdekkingstog gestuur deur die Kaapse regering wat die gebied alreeds bekend as Niemandsland, te verken. Uit die verslag bly dit dat daar alreeds sowat 400 boeregesinne in die gebied tussen die Sterrenbergspruit en die Kraairivier woon. Op 17 Desember 1847 word ‘n proklamasie te Grahamstad uitgevaardig wat die grense van die Kaapkolonie soos volg vasstel: Aan die noordekant tot by Oranjerivier, en die Kraai-, Klaas Smits-, Swart Kei, Klipplaats-, Tyumi- en Keiskammariviere aan die oostekant. Op die drie-en-twintigste van dieselfde maand proklameer Sir Harry Smith die area tussen genoemde grense en die Groot Kei in kroonkolonie onder die naam Brits-Kaffraria.

Die hele Noord-Oos Kaap lê dus nou oop vir kolonisasie, en, omdat die grasveld uiters geskik is vir die skaapboerdery, vind ons die skaapboere op die voorpunt. Die meeste van hulle het bekend gestaan as Doppers, en oor hulle skryf Dr. B Spoelstra in die Gedenkalbum van die Gereformeerde Kerk Colesberg soos volg:



“Vandag word algemeen aangeneem dat ‘n Dopper ‘n lidmaat van die Gereformeerde Kerk is en dat die kerkverband uitsluitlik deur Doppers gevorm is. Dit is egter nie waar nie. Voor 1859 is omtrent al die afstammelinge van die oorspronklike pioniers in die wyke Renosterberg, Suurberg, Brakrivier, Nuwe Hantam en Seekoeirivier as Doppers beskou. So noem Ds Lion-Cachet van die Nederduits-Gereformeerde Kerk, Sarel Celliers, Hendrik Potgieter en Paul Kruger in een asem “Doppers”. Hy het goed geweet dat die eersgenoemde twee nooit lede van ‘n Gereformeerde gemeente was nie. Iemand gee in “Het Volksblad” van 1857 ‘n uitvoerige beskrywing van die Doppers omdat hy hom in Colesberg “die land van Doppers” bevind.



Die Doppers kan ook nie met die Voortrekkers vereenselwig word nie. Die Voortrekkers het hoofsaaklik uit die pioniers van die distrik Swellendam, wat gedurende die 17de en 18de eeu langs die huidige tuinroete ooswaarts getrek het en later met die voorpunte van die westrekkende Xhosas in aanraking gekom het, gestam. Uit die Engelse grenspolitiek is die Groot Trek onder hierdie mense gebore. Die Doppers daarenteen was afstammelinge van die pioniers uit die distrik Stellenbosch, wat omstreeks 1770 vanuit die Rogge- en Bokkeveld oor die vooruitgeskuifde pioniersplase heen, hulle ten noorde van die Sneeuberge in die omgewing van Renosterberg, Brakrivier en die Seekoeirivier gevestig het.



Die doppers was dus nie ‘n eienaardige groep mense wat tussen die boere gewoon het nie, maar hulle was die oorspronklike pioniers van die noordoostelike distrikte. Waar die Voortrekkers hoofsaaklik beesboere was, was hulle skaapboere”.



Met die stigting van die Gereformeerde Kerk in 1859, vorm hierdie skaapboer-pioniers die kern van die Gereformeerde Kerk in die gebied. Van hulle omswerwinge en ontberings, hulle vreugdes en smarte, vertel ek nie – die verhaal daarvan lê duidelik in die volgende bladsye vir almal wat ‘n oog het om te sien en ‘n oor om mee te hoor”

Ook is daar ander verduidelikings van die naam:

Volgens http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1992/01/23/17/1.html

Die oudste van dié kerklike byname is die woord ''Doppers''. Nog voor die Gereformeerde Kerk of Dopperkerk in 1859 afgeskei het, is dié naam al gebruik.
Daar is verskeie teorieë oor die oorsprong daarvan, maar volgens prof. Flip van der Watt, voormalige hoogleraar in kerkgeskiedenis van die NG Kerk, is die aanneemlikste teorie dat dit kom van die Nederlandse woord ''dorpers''.
Dit is gebruik vir mense van die platteland dus nie stedelinge nie. Volgens prof. Van der Watt het dit op eenvoudige mense gedui, maar nie 'n negatiewe betekenis gehad nie.

Nog n'verduidelik volgens http://www.gksa.org.za/Oor%20die%20GKSA/geskiedenis

In die vroeë 1800's het die Gereformeerde Kerk in die destydse Kaapkolonie egter 'n nuwe liedereboek vanaf Nederland in die erediens ingevoer. Baie van die liedere in hierdie boek het die Belydenisskrifte (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en dieDordtse Leerreëls) soos vasgestel by die Sinode van Dordtrecht in 1618/1619, weerspreek. Van die lidmate in die afgesonderde Noordoostelike distrikte het hierteen in verset gekom. Hulle was bekend as “die Doppers”. Van die begin af was daar dus lidmate wat nie hierdie gesange wou sing nie. Onder hulle was die uitgangspunt: "In Gods huis Gods lied". Dit was eenvoudige lidmate uit die boeregemeenskap wat naas die Statebybel met kantaantekeninge ook, soos hulle voorouers sterk aanklank gevind het by die oud-gereformeerde skrywers soos à Brakel, Smijtegeld en d'Outrein.

Of miskien volgens http://www.kletskerk.co.za/viewtopic.php?f=1&t=10259&view=print

Waar die Doppers se naam vandaan kom het ek nie geweet nie en moes vanoggend by een van hulle geleerdes gaan kers opsteek waar die naam vandaan kom.

Hy laat weet soos volg:


Haal aan:

1. Dopper = Domper (iemand wat altyd die lig as ‘t ware uitdoof). Naam is gebruik voor die stigting van die GKSA in 1859 en dui waarskynlik op mense wat die sg liberale lig van die Kaapse NG Kerk wou uitdoof.

2. Dopper = ‘n kommetjie wat destyds op die kop geplaas is en alle hare wat uitsteek is afgesny