Oom Hennie se laaste verbyvlug

Woensdag 08 April 2015 Oos-Rand-Beeld

Hennie van der Walt (73), oftewel Oom Hennie, is ’n oudvlieënier en bekende aan die Oos-Rand in die destydse Edenvale-munisipaliteit se raadsale en nou die Ekurhuleni-metroraad, waar hy VF+-raadslid is.

Hoe het jy aan die Oos-Rand beland? 

Ek is op 26 April 1942 gebore, skaars 500 m van waar die huidige Eastgate-winkelsentrum staan.

Later, ná skool en opleiding, is ek getroud met June Bates, suster van die destydse Springbok Albie Bates. Ons het drie pragtige dogters – Loamie (48), Madeleen (47) en Junay (45) – en tussen hulle ses kleinseuns, twee by elke dogter.

Wou jy altyd ’n vlieënier word en wanneer het die vlieggogga gebyt?

Ek was lid van die Suid-Afrikaanse Lugmag en van 1959 tot 1967 was ek as radiotegnikus werksaam. Dit was ook tydens daardie jare, om presies te wees in 1962, wat ek leer vlieg het by die weermag se vliegklub.

In 1968 word ek by die Suid-Afrikaanse Lugdiens aangestel as junior vlieënier. Ek het so deur die range beweeg tot met my uittrede in 2002 as senior kaptein op die Boeing 747. In daardie stadium het ek al 19 000 vliegure bymekaar gemaak.
No1ArtikelFoto2


Wanneer en hoekom die toetrede tot die politiek?

Ek kom uit ’n politieke huis en dit was amper natuurlik dat ek ook in daardie rigting sou gaan.

In 1977 word ek die eerste keer as raadslid in Edenvale verkies. Daarna is ek met elke verkiesing onbestrede herkies. In dieselfde jaar as my verkiesing as raadslid, word ek ook as Edenvale se onderburgemeester verkies. ’n Jaar later is ek tot burgemeester verkies, die jongste in die stad se geskiedenis.

Wat hou ’n mens so lank in die politiek?

Dit is net in my geaardheid om ander mense te help.

As jy terugkyk, wat is ’n hoogtepunt en laagtepunt in jou lewe?

My hoogtepunt was om tegelykertyd ’n Boeing-kaptein en die burgemeester van Edenvale te wees. Dit was gedurende 1988.

Die laagtepunt van my lewe was my uittrede uit die SAL. Ek het gevoel ek kon nog baie jare groot vliegtuie gevlieg het. Dit is ook hoekom ek vir my ’n klein vliegtuig gekoop het om naweke mee rond te vlieg. Hy staan by die Springs-vliegveld.

Mense is vinnig om politici te kritiseer. Hoe hanteer jy kritiek?

Ek put krag uit die “dankies” van die mense nadat ek hulle gehelp het met wat soms lyk na onoplosbare probleme.

Wat maak jou kwaad?

Ek word nie gou kwaad nie, maar verpes swak plaaslike regering, korrupsie en swak diens.

’ n Mens twyfel soms oor jou loopbaanbesluite. Sou jy weer dieselfde pad geloop het as jy kon?

Ek kon seker ’n ryk man gewees het, maar ek het grootgeword in ’n politieke huis.

Die tyd het egter nou vir my aangebreek om ná 39 jaar in die politiek die vaandel te oorhandig. Dit is my laaste termyn as raadslid in Ekurhuleni.

Oom Hennie se volle name is Hendrik Johannes.

Vernoem na Hendrik (b02) die tweede oudste seun van die stamvader en Johannes na sy beroemde oupa H.S.J. (Johannes Strydsman)

Sy genealogiese nommer is: b02c03d03e05f03g01h03i01.