Van der Walt op die leeu se spoor

Die ontsnapte leeumannetjie wat Maandagaand in die Nuweveldberge vasgetrek is, sal minstens vir die volgende maand in ’n boma aangehou word.

Twee dae gelede het die driejarige leeu nog soos die kaatjie van die baan vry tussen Beaufort-Wes, Leeu-Gamka en Fraserburg in die Karoo rondgeloop.

Maar nou, met ’n satellietsein-halsband, sal hy nie vinnig weer die pad kan vat nie.

“Hy is gesond en het reeds lekker aan ’n karkas van ’n hartebees gevreet. Daar is geen letsels aan sy lyf nie. Net een van sy pote was seer van al die stap,” het Nico van der Walt, parkhoof van die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes, gesê.

Van der Walt het gister vir die eerste keer met die nuusmedia gepraat nadat hy 24 dae lank elke dag op die leeu se spoor was.

Die boere het die leeu Sylvester gedoop, maar vir Van der Walt was die rondloper se naam Spook.

“Ek het hom só genoem omdat ons hom nooit te sien gekry het nie.”

Douvoordag elke dag het hy en ’n span spoorsnyers die leeu se spoor gevat – elkeen van die 300km wat die vuilbaard die afgelope drie weke in die Karoo afgelê het.

En die driejarige leeu het tot op die laaste oomblik dit nie vir die soekspan maklik gemaak om hom vas te trek nie.

“Ons het hom in baie moeilike omstandighede gevang,” het Van der Walt vertel.

“Ons was hoog in die berge – 1700 meter bo seevlak. Die leeu het op ’n klip gelê en die spoorsnyers het hom sit en dophou terwyl ons die helikopter laat kom het. Dit was gevaarlike terrein. Die helikopter se lemme was twee meter van die berg en boonop het die leeu ongeveer drie meter van ’n krans gelê.”

’n Veearts van Sanparke het die leeu uit die helikopter met ’n verdowingsmiddel geskiet, waarna hy in ’n slinger onder die helikopter uit die berge gevlieg is.

Dit was egter nie voor Van der Walt en die spoorsnyers elkeen met hul hand op die leeu se groot lyf ’n kiekie van hulle saam met Spook laat neem het nie.

“Die leeu was baie moeg en honger teen die tyd dat ons hom gevang het. Hy het vier dae laas gevreet,” het hy gesê.

Die soekspan was op die leeu se terrein en daarom het die leeu selfs meester-spoorsnyers van Graaff-Reinet en Botswana op hul neuse laat kyk.

“Hy is baie slimmer as wat mense dink. Die natuur is sy plek en só was hy heeltyd een stap voor ons. Die span het egter in die 24 dae nie een keer moed verloor nie en ook nooit sy spoor verloor nie. ”

Só het Van der Walt elke oggend die soektog gereël:

•  Vier van die mees ervare spoorsnyers het elke oggend die spoor opgetel waar die soektog die vorige aand gestaak is;

•  Drie spanne spoorsnyers het 5km voor die ervare spoorsnyers begin soek na nuwe spore. Sodra hulle iets nuuts opgemerk het, is die ervare spoorsnyers op bakkies nadergebring. Só het hulle tyd gewen;

•  Die bakkies was toegerus met radio’s waarmee hulle met mekaar gekommunikeer het;

•  Die helikopter het hoofsaaklik in die Karoo Nasionale Park op bystand gewag; en

•  ’n Boer van die Fraserburg-omgewing het met ’n girovliegtuig vooruit gevlieg. Sodra hy dooie skape gewaar het, het die spoorsnyers na die karkasse  gery. “Want dan wéét ons die leeu was daar,” het Van der Walt verduidelik.

LeeuTjopperDie leeu in n' slinger onder n' helikopter


Dit is egter nog onseker of die leeu weer in die Karoo Nasionale Park vrygelaat gaan word.

“Ons vermoed hy is deur die ander ouer leeus uit die trop gestoot. Ons sal binne die volgende maand besluit,” het hy gesê.

Die leeu sal elke drie dae gevoer word en mense sal nie naby die boma, wat so groot soos twee rugbyvelde is, toegelaat word nie.


Die leeu is intussen van ‘n kraag voorsien sodat hy vorentoe makliker opgespoor kan word.

Ná die drie weke lange soektog sê Van der Walt hy het geen kwade gevoelens teenoor die leeu oor die 300 km wat hulle moes aflê om hom op te spoor nie.

“In dié tyd het ek respek vir hom gekry oor alles waardeur hy moes gaan,” sê hy.

Die leeu het tydens sy omswerwinge sowat 24 skape doodgebyt en ‘n koedoe gevang.
“’n Leeu sal enige ding wat by hom verbyhardloop probeer vang,” verduidelik Dèan Gous, voorsitter van Agri Sentraal Karoo. “Dié een het duidelik ook die kuns aangeleer om deur drade te kruip.”

“Die park is 98 000 ha groot en daar is beslis genoeg plek vir vier leeumannetjies,” sê Gous. “Die leeus was waarskynlik naby Brandewynsgat toe die ander leeumannetjies hom geskraap het en hy onderdeur die draad ontsnap het.”


 “’n Leeu is deel van die katfamilie, en die kat kom weer,” sê Gous.

Verwysings:

http://www.son.co.za/nuus/2015-07-02-sylvester-die-leeu-moet-dalk-waai www.oudtshoorncourant.com 30 Junie2015 www.network24.com 2 Julie 2015 www.timeslive.co.za