Curriebeker 2015 se onbesonge helde?

Agt spanne word nou vier in vanjaar se Curriebeker-reeks met die halfeindronde wat dié naweek gespeel word. Vir die Haaie, OP-Kings, Pumas en Griekwas is 2015 se veldtog verby en hoewel dié spanne teleurgesteld sal wees, kan hulle tevrede wees met die vertonings van dié onbesonge helde. 


Philip van der Walt Philip van der Walt (Haaie) Die Haaie het voor vanjaar se CB-veldtog probeer om ’n paar ervare aanwinste te werf, maar nie almal van hulle het noodwendig ’n gewenste impak gemaak nie. Gary Gold, die unie se direkteur van rugby, het wel munt geslaan uit dié gewese Cheetahs-losvoorspeler se handtekening. Van der Walt het volgens Opta, ’n ontledingsmaatskappy, die meeste duikslae in vanjaar se reeks uitgevoer en was een van die doeltreffendste baldraers. Maar dit was sy leierskap en deursettingsvermoë wat sy span se kop in ’n moeilike veldtog bo water gehou het.

Thembelani Bholi

Thembelani Bholi (OP-Kings) Dié 25-jarige flank het sy span se veldtog goed weerspieël. Dinge het nie altyd glad verloop vir Bholi nie en hy kan beslis sy lakwerk verbeter – hy het ’n aansienlike aantal duikslae in vanjaar se reeks gemis. Tog skroom hy nie om hard te werk nie en wys altyd deursettingsvermoë. Hy mis dalk duikslae, maar hy voer ook ’n klomp uit. Bholi hoef ook nie slegs donkiewerk te doen nie. Verskeie kere as die Kings wel op die voorvoet was, was hy aan die spits van hul aanvallende spel omdat hy die vermoë het om ’n goeie skakel te wees.

StefanWatermeyer

Stefan Watermeyer (Pumas) MJ Mentz, die Pumas-afrigter, het twee weke gelede genoem hoe verlig hy was dat sy kaptein terug in die span se geledere was ná ’n besering. Die span van die Laeveld het teen die Westelike Provinsie op Nuweland ineengestort in die tweede helfte, meestal weens gebrekkige leierskap. Met Watermeyer in die span, het die Pumas na ’n meer gedugte teenstander gelyk. Daar was bestendigheid in die middelveld en rigting op die aanval. Die Kings kry beslis ’n waardevolle nuwe spanmaat vir aanstaande jaar se Superrugby-reeks.

CarelGreeff

Carel Greeff (Griekwas) Dié 25-jarige boorling van Klerksdorp is jare lank ’n yster vir die Poubloues. Sy aanvallende spel bly van hoë gehalte, soos bewys deur die vyf drieë wat hy in vanjaar se reeks gedruk het. Greeff skep soms die indruk dat hy nie juis daarvan hou om op die agtervoet te speel nie, maar hy is nietemin aanpasbaar en voer sy duikslae uit. Hy is ook ’n goeie afwisselende lynstaanspringer. ’n Mens wonder watter soort verwoesting hy kan saai in ’n span wat meer gereeld op die voorvoet is.

http://www.netwerk24.com/sport/rugby/2015-10-12-wie-is-curriebeker-se-onbesonge-helde