Frieslandse nooi wys haar slag met perde in die Vrystaat

’n BLONDE perde-afrigter uit Friesland wat ’n oud-Vrystaat-rugbyspeler, se Friesperde afrig, het ná skaars ’n maand in die Vrystaat Afrikaans onder die knie, haar eie Cheetah-trui én Afrika van nader leer ken toe sy die eerste keer in haar lewe van ’n perd geval het.
Me. Monique Holwerda rig die spogperde van mnr. Nico van der Walt, gewese slot van die Vrystaat, af. In net meer as ’n week het sy ’n merrie opgesaal wat nog nooit gehanteer is nie.
Sy gaan haar kunsies op 10 Oktober op die Hoefslagfees in Bloemfontein ten toon stel. Op 7 Oktober tree sy ook by die Hoërskool Sentraal en die volgende dag by Grey-kollege op.
Sy gaan Van der Walt se perde ook op die Nasionale Friesperd-skou in die Afridome op Parys van 12 tot 14 November hul passies laat wys.
Holwerda (19), van die dorpie De Tike in Friesland, ’n Nederlandse provinsie, het pas haar studies van drie jaar aan ’n professionele perdesportskool in die stad Deurne voltooi toe sy die kans gekry het om haar slag in die Vrystaat te wys.
Sy is van 5 Augustus op sy plaas tussen Bloemfontein en Brandfort, waar sy altesaam 10 perde gaan afrig. Sy werk met tussen ses en agt perde op ’n dag. Volgens hom het sy reeds ’n reuse-taak verrig.
Sy praat met die perde Fries en praat reeds uitstekend Afrikaans. “Die Vrystaat is lekker, omdat dit so anders is as Nederland. Ek ken net die Nederlandse manier van dinge doen. Ek het nooit geweet hier is soveel Friesperde in Suid-Afrika nie.”
In Nederlands is sy ‘n “trainer”, wat iets anders is as ’n perde-afrigter. Eersgenoemde is een wat die perde hul passies leer en ’n afrigter in haar tuisland breek die perde in.
“Maar nee, ek is nie ’n perdefluisteraar nie! Ek het my eie tegnieke met die perde. Baie belangrik is as jy die eerste keer die perd klim om rustig te wees. Iemand moet ook die eerste keer die perd vashou.”
Sy ry reeds sedert sy 10 is met ponies en op 13 het sy haar eie Friesperd gekry. Maar Dinsdag het sy die eerste keer afgeval toe ’n merrie begin bokspring het. Hulle wou haar aan musiek gewoond maak, maar sy wou nie saamdans nie.
“Dit was gelukkig nie seer nie,” lag sy.
Holwerda het die rugbywedstryd tussen die Vrystaat-Cheetahs en die WP Saterdag bygewoon. “Ek hou van rugby, al ken ons net sokker. Ek het selfs my eie Cheetah-trui!”
Van der Walt sê die werkers moet spring om kers vas te hou by haar. Sy het gesê hulle werk ’n bietjie “langsaam”. Tuis moes sy 20 stalle in ’n uur skoonmaak. Dit het vyf werkers ’n dag geneem om vyf stalle skoon te maak. Hulle leer ook die fynere kunsies van perdehantering van die jong afrigter.

Berig: Charles Smith, Volksblad 2009/09/18