|
Sport held
|
|
|
Johannes van der Walt
Teen ligdag, op 23 Februarie 1942, is die Hoëveldse oggendstilte op ʼn afgeleë boereplaas naby Krugersdorp skielik versteur deur ʼn geskarrel in en om die huis, ʼn vensterraam wat opskuif en, oomblikke later, ʼn dowwe pistoolskoot. ʼn Forse figuur stort buite die venster ineen, swaar gewond. Op 25 Maart 1943, dertien maande later, het hierdie gewonde, nou uitgeteer en slegs ʼn skadu van die fris en gesonde man van weleer, sy laaste asem uitgeblaas. Sy einde was tragies, die slagoffer van ongekende broedertwis in Afrikanergeledere. So onuitwisbaar as wat sy naam in die politieke geskiedenis van ons land, van die veertigerjare opgeteken staan, so diep is Johannes van der Walt se naam in die sportgeskiedenis van Suid-Afrika uitgebeitel. Hy was die beroemde stoeier wat onder die skuilnaam van Die gemaskerde Wonder later ʼn nasionale held geword het, wat die verbeelding aangegryp het soos nooit tevore nie. Hy het vanweë sy krag maar veral met sy volstruisskop, baie roem verwerf. Toeskouers het in hulle duisende na die stoeikryt gestroom en die sportsoort het ʼn hoogtepunt in Suid-Afrika bereik. Na 51 gevegte, waarvan hy net 3 verloor het, is die gemaskerde wonder in November 1935 vrywillig ontmasker nadat daar nie aan die uitdruklike voorwaarde – dat hy met twee valle teen nul geklop moes word, voldoen kon word nie. Sedert sy toetrede tot die stoeikryt, het Van der Walt veel roem verwerf, en steeds getrou gebly aan die beste tradisies van sy volk. Hy was ʼn nederige en kinderlik-gelowige Christen, baie familievas en intens tradisiebewus.. Sy bewussyn van Afrikanerskap het hom ʼn welige bos baard laat kweek in die jaar van die Ossewa-trek, en, geïnspireer deur die tydsgees, het hy hom by die destydse Ossewa-Brandwag aangesluit . Hy neem ook aktief deel aan sabotasie-pogings teen die regering. Op 17 Desember 1941 verskyn hy in die Johannesburgse magistraatshof op aanklag dat hy onwettig in besit van ʼn vuurwapen en ammunisie was. Na borgtog was hy weer gearresteer en in die destydse internasionaal-beroemde Marshallplein onder streng bewaking toegesluit. Hy ontsnap egter uit die tronk met behulp van een van die bewaarders. In Februarie 1942 het dr. D.F. Malan ʼn dramatiese beëdigde verklaring van Johannes van der Walt in die Volksraad ter tafel gelê, waarin hy die regering gewaarsku het oor die rigting wat die beweging en sy leiers in geslaan het. In die tragiese einde van die groot held het ʼn Duitser, wat aan Johannes bekend was en sy vertoue genie t het, Johannes se skuilplek op ʼn plaas naby Krugersdorp aan die polisie verraai.
Bron: Die Transvaler 1943.
|